Dit tyd vir wonderwerke is sowaar nog nie verby nie. Die week wonder ek op FB waar al die bloggers wat ek leer ken het en ‘n pad mee saam geloop het. Die reaksie was ‘n heerlike verrassing. Amper 40 bloggers reageer en die gevolg is die lekker uitruil van wat daar in die blogwêreld gebeur.
Ek het reeds in 2005 begin om blogs op Mweb te lees en in 2006 my eie geskep. Nogal met sterre in die oë was die doel om ‘n wonderlike onderwys bydrae te kon lewer. Daarvan het niks gekom nie, want die talente ontbreek. Ek het baie voorbarig met ‘n Survivor uitdaging begin en gou my hande vol gehad om die vrede te bewaar. Dit was egter lekker pret. In Julie 2006 is my ma wat lank by my gewoon het, oorlede en die bloggers het my hierdeur gedra.
Bloggers het gekom en gegaan, maar die buitelandse verkopers het die blogs op Mweb oorstroom en die meeste van ons het na Litnet gegaan. Oh Boy … het ek maar geweet waarvoor ek my inlaat. Dit was ‘n opwindende tyd, maar ek het gou geleer dat ek net ‘n prulskrywer is en dat my sin vir humor besils nie in almal se smaak val nie. Tog het ek wonderlike bloggers ontmoet. Mense vir wie ek die grootste respek en bewondering het. Daar het ek ook geleer dat daar baie gemene mense is, wat nie sal wyfel om ander te vernietig net om ‘n geveg te wen nie. Mense wat oral ronddwaal en skoorsoek en wat ‘n argument in enige onskuldige opmerking sien. Tog was dit ‘n wonderlike tyd.
Nou is ons hier op WP. Rustig met min steurnisse, geen hewige argumente, geen truiverkopers en eintlik min opwinding. Tog vir mense soos ek wat van roetine hou, ‘n rustige plek waar mens kan kuier met goeie vriende. Soms verlang mens na die vurige ou dae, maar die meeste van die tyd is mens tevrede met die lekker onthou!
Sjoe, nou het ek baie gepraat … het jy darem al vandag geglimlag?