Sjoe, ek was lanklaas hier. Dinge lyk nog goed hier op die Landgoed en ons is al gewoond aan die nuwe normaal. Ek het tot die week my inkopies van PnP bestel… grinnik… ek is op die oomblik heel nederig. Ek het al die jare duidelik vir die skoolkinders verduidelik dat mense nie kan weet wat in jou brein gebeur nie, jy moet deeglik verduidelik! Daar trap ek toe in my eie slagyster. Ek is baie trots op my Samsung Notes lysie. Sug, die bestelling kom in ‘n boks gepak … ek gebruik altyd sakkies en sowaar 4x 1liter jogurt. Dis amper genoeg vir die hele landgoed. Ek giggel nou nog. As ‘n mens ‘n lysie vir jouself maak sal dit net vir sekere mense sin maak. Gelukkig kan ek volgende week weer probeer.
Dankie vir die inloer/deelneem. Hoop jy het ‘n heerlike naweek en dat jy altyd iets sal kry om oor te glimlag.
Die heeltemal te koud om baie te skryf en daarom moet jy tevrede wees met ‘n paar grappies:
Na sy dood het ’n vreemde gevoel Koos se vrou beetgepak. Sy het haar man gemis.
So het dit dan gekom dat Koos se vrou by ’n spirituele medium beland. Dié kon vir Koos opspoor vir ’n intieme gesprek.
“Koos, is jy gelukkig?” Wou sy weduwee angstig weet. “Ek is baie gelukkig.” Het Koos geantwoord deur die medium. “Gelukkiger as hier op aarde?” Vra sy verlig. “Ja, ek is nou baie gelukkiger as wat ek was daar by jou op die aarde.” Antwoord Koos. “Ag, Koos, vertel my meer!” Antwoord sy weduwee uitgelate. “Is die hemel so fantasties soos hulle sê?” “Hemel!” Kom die antwoord vinnig. “Ek is nie in die hemel nie!”
*****
Dis al baie laat die nag wanneer Koos se vrou ‘n gevroetel by die voordeur hoor. Sy besef maar te goed dis Koos wat nou eers van die kroeg af kom.
Koos skrik hom boeglam toe sy vrou skielik die deur oopmaak. Hy is stormdronk en onder sy arm knyp hy ‘n hoender vas.
“OK, OK, OK!” sê Koos, “Ek sal bieg! Ek en die merrie het al vir jare ‘n verhouding!”
“Koos jy is dronk!” sê sy vrou “Dis nie ‘n merrie nie, dis ‘n hoender.”
“Sjuut!” sê Koos vir sy vrou “Ek praat nie met jou nie!”
*****
Koos het dae geoefen om sy nuwe papegaai te leer grappe vertel. Dit wou later vir Koos voorkom die voël praat nou beter as hy wat Koos is.
Koos kry toe die blink idee om ‘n paar rand te maak met sy nuwe voël by sy plaaslike watergat.
“Die is die beste grapjas papegaai in die wêreld” spog Koos by die kroeg. Die ouens is gewoond aan Koos se bogstories en wed hom R100 sy papegaai kan nie ‘n grap vertel nie. En kom wat wil, Koos kan niks doen om sy papegaai aan die praat te kry nie. Koos is dikbek terug huis toe, minus R100.
“Wat de hel is dit met jou?” skel Koos vies op die voël . “Wat het van jou grappies geword. Jy sit daar asof jy nie eens kan praat nie.”
“Inderdaad Koos,” antwoord die papegaai “maar môre vat jy my weer kroeg toe, en onthou – die helfte van die R1 000 wat jy gaan wed is myne.”
*****
Ek hoop die kopies gaan darem opmaak vir die vaal grappies. Hoop jy het ‘n lekker week. Onthou om te glimlag … ek stuur al die kopies denkbeeldig aan.
Ek loop altyd en vertel vir almal wat wil luister hoe lekker dit is om afgetree te wees. Gister vertel iemand dis darem eintlik lekker om te werk en ek moet met haar saamstem. ( Nie nou meer nie) Dit was darem altyd vir my lekker om skool te hou. Dit was nie sleg om soggens skool toe te gaan en die gesiggies te sien en kinders te sien groei. Uitdagings was lekker … al was die woorde: “DAAR IS NIE GELD NIE” super bekend. Goed daar was goed wat nie lekker was… speelgronddiens, eksamentoesig, ooooo en daardie busdiens wat jy kwart oor ses by die skool moet sit. Dis darem baie lekker om gelukkig in jou beroep te wees. Is/was jy?
Dankie vir die inloer/deelneem. Jy moet warm bly en die naweek geniet. Moenie vergeet om te glimlag nie.
Ek doen al ‘n hele paar jaar die Vrydag Byskrifte en hoewel mense gaaf is en inloer, het die byskrifte al minder en minder geword. Dankie vir almal wat deelgeneem het, veral aan Karel wat nooit ‘n week oorgeslaan het. Vandag toets ek die waters ‘n soek ‘n treffende tema of opskrif. Ek sien uit na jou poging …