Die lewe is nie vir sissies nie! Ek het so tyd gelede vertel van die dood van ‘my’ onkoloog. Vrydag kry ek ‘n onverwagte telefoonoproep van ‘n dame wat my formeel meedeel dat Dr. M. se praktyk die einde van die maand finaal sluit en ek moet kies of my lêer na Dr. J. of Dr. (naam waarvan ek nog nooit gehoor het) gestuur moet word. Ek is uit die veld geslaan en probeer uitvra, maar word meegedeel dat as ek nie een kies, ek maar Pretoria toe moet gaan. Net so in die bestek van twee minute word ‘n hele paar dinge afgesluit. Die ondersoektafels, die ontvangkamer met die versies teen die muur en skilderye waarvan ek elke detail ken, die stoele en instrumente in die chemolokaal, die gangetjie na die bestralingslokaal … ens., ens. Die hele ervaring word gereduseer na dun lêertjie in ‘n onbekende dokter se liaseerkabinet. Tog moet ek nie kla nie, want mense het meer verloor as ek. Werknemers het hulle werk verloor, kinders het herinneringe van geliefdes verloor en die dorp het nog ‘n spesialis verloor. So Tinatjie jy moet nie kla nie… die lewe gaan aan.
Dankie vir die inloer. Ek hoop jy kry ietsie vir jou wenslysie, maar dat jy ten minste sal glimlag.