RSS Feed

Tyd

b65b58d47bc222c3207ca2661d43077a

In Juniemaand se Sarie groet Koos van der Merwe vir die laaste keer na 15 jaar se skryf van die agterblad rubriek. Dis vir my ‘n persoonlike verlies. Naas Izak de Villiers was hy ‘n groot gunsteling en kon my talle kere met ‘n knop in die keel laat na die lees van sy werk. Maar (skuus Lou) die tyd loop aan.

Ek is nog al die jare ‘n tydskrifentoesias. Die oud-Mweb en Litnet bloggers sal weet dat ek ‘n getroue Huisgenootleser.  (Ja,ja ek is regtig oud en slim genoeg om die koring van die kaf te skei)  Die tydskrifding kom beslis al van kleintyd af. Daar was nie eintlik geld vir tydskrifte nie,  maar vriende het  vrygewig altyd ou tydskrifte aangegee wat dan verslind is. Familie het begin deur De Spiegel en Panorama uit Holland aan te stuur – wat ‘n groot saligheid was dit nie. Iemand het ook vir ons ‘n stapel Patryse en fotoverhale geskenk. Die tydskrifte was later geel en verflenter gelees. en later het ons vir ons papierpoppe klere daaruit gemaak. Die lekkerste was ‘n prentjie van gordyne wat die rok dan heerlik in voue laat hang het.

‘n Ander lekkerte was die Womens Weekly beslis die voorlopers van die Mills & Boons wat ook verslind is.  Daarby kom ook die Landbouweekblad wat my pa self gekoop het, en wat jy vakansies in volgorde gesit het om die vervolgverhale te lees. Ander skenkings van tydskrifte soos die Brandwag, Sarie, Rooi Rose was ook gewild.  Ek wonder of die skenkers ooit besef het hoeveel vreugde hierdie geskenke verskaf het.

Later toe mens self kon koop of ruil wat daar meer resente tydskrifte… Klasgids, Standpunte, De Kat, Lantern  en die SA Panorama kan ek onthou. Op die oomblik koop en net die Huisgenoot , Vrouekeur en die Sarie wat ek uitruil met Tannie P wat die Rooi Rose koop. Ek kan tog met volle oortuiging sê dat my lewe sonder tydskrifte beslis vaal en oninteressant sou gewees het.

Oeps, hier wou ek oor TYD skryf en verdwaal toe tussen die tydskrifte… sug…

35 responses

  1. Patrys het ek geniet en ek het steeds ‘n hardeband rooi boek met artikels genaamd : Patrys jaarboek vir seuns, waarin ek onder andere knope geleer het wat ek nou nog gebruik

  2. Baie mense lees Huisgenoot wat dit nie wil erken nie 😆 Ek lees alles waarop ek my hande kan lê

    • Dit weet ek baie goed. Ons het op die Mweb bloks daardie geveg gehad en ek het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Mens moet net jou gesonde verstand gebruik

  3. Ooooo, genade, wat n terugblik op die tyd wat verby is! Kan jy onthou dat die ou “Spiegels” op die plafon gebêre is? Ons kon net nie oor ons hart kry om dit weg te doen nie. Ek kan onthou dat ek op die leer gestaan het en dan die tydskrifte op die plafon deurgeblaai het op einde! Daar was nog van die tydskrifte op die plafon toe Mamma-hulle getrek het.

  4. In my tannie se huis was daar ‘n slaapkamertjie met stapels ou tydskrifte – my gunsteling was die “Readers’ Digest”. Daar was ‘n bulsak op die bed, dit het gevoel asof mens op ‘n wolkie le en lees. Ek en my boetie het tougetrek om in daardie kamertjie te mag oorslaap.

  5. Tannie Willa, by wie ek loseer het, het ook die Panorama gekry.

  6. Met al die sosiale media,tv ens.lees mense nie meer so baie tydskrifte nie.Ek onthou ook hoe ons uitgesien het na die weeklikse aflewering van Sarie en Huisgenoot.

  7. Jy het my ook nou baie jare teruggeneem. Tydskrifte was ñ defnitiewe hoogtepunt in ons lewens. Almal wat jy opnoem, ek onthou!

  8. Pr jr gelede… damn…

  9. Trip down memory lane… ek het so paar jaar tydskrifte afgesweer oor die inhoud en die prys. Ek sal veel eerder geld op mooi boeke spandeer en dan natuurlik musiek, enige genre, dit is my dood. Maar koerante verslind ek en dit is eintlik baie depressing. Jy het my nou weer lus vir tydskrifte…. maar vir pastoor Koos ken ek, hy toor met woorde.

  10. Dankie, vir die herinneringe aan tydskrifte, wat ‘n groot rol in my jong jare, gespeel het.

  11. O liewe tyd, so dwaal ‘n mens se gedagtes maar. Jy het my nou sommer baie jare gelede teruggeplaas in die verlede. Ons het in my kinderjare ook heelwat tydskrifte aangekoop en uitgeruil, want saam met die radio en Saterdae se fliek, was dit die enigste vermaak. Dis egter al lang jare lank wat ek dit nie meer lees nie, behalwe in die dokter / tandarts se spreekkamer. Ek wonder of dit dieselfde Koos van der Merwe was wat eenkeer my tuisdorpie as ‘n “aan die slaap dorpie” beskryf het in die Beeld?

%d bloggers like this: