Een van die lekkerste dinge van onderwyser is as kinders waarvoor jy skool gehou het presteer, al voel jy soms dat jy nie genoeg gedoen het nie.
Ons het vir ‘n hele paar jaar ‘Ïdols’ (Genoem Klankekalante) gedoen. Die gr. 4-7’s moes almal deelneem en dit was deel van die Kuns en Kultuur punt. Oudisies met 3 onderwysers as beoordelaars is gehou en hulle kon ‘aantrek’ vir die okkasie. Daaruit het ons so tussen 20-25 van die bestes gekies en hulle het dan voor die kinders van die skool opgetree en elke kind kon vir sy gunsteling stem. Die tien bestes het dan deurgedring tot die finaal voor die ouers wat ook vir hulle gunsteling kon stem en so is elke jaar ‘n graadwenner aangewys en ‘n algehele wenner wat die meeste stemme gekry het. Dit was baie pret (ook baie werk) maar beslis ‘n platform vir baie kinders en die selfvertroue het my elke jaar verbaas. Ek onthou nog vir Elisma wat soooooo skaam was tot ons haar toelaat om buite die saal met die mikrofoon te gaan sing… die soetste stemmetjie en sy sing haar toe die jaar in die derde plek in.
Ek wou eintlik van Ashley vertel … sy jaar se algehele wenner wat nou oppad is na ‘n oudisie vir The Voice. Ek kan nie die lekker warm gevoel beskryf wat dit mens gee nie. Mens kry so gevoel met elkeen wat sukses behaal. Elke troue en die geboorte van ‘n kind of enige prestasie verskaf onbeskryflike genot. Selfs die groot glimlag met die ontdek van ‘n nuwe liefde maak my hart warm.
Wag dis is nou genoeg getrommel … het jy onthou om vandag te glimlag?





