Soms duik daar in die week goedjies op waaroor ek graag jou mening wil hoor maar dit is te klein om ‘n hele blog oor te skryf en daarom gooi ek die klomp bymekaar.
- PnP se kaartjie promosie is verby en ek dink dit was nou regtig ‘n goeie idee. Die kaartjies en albums was interessant vir jonk en oud. Checkers het ook ‘n promosie gedoen, maar dit was meer vir kinders. Watter promosie was die beste wat jy nog ooit gesien het? (Onthou jy daardie slammers (sp?) in die skyfiepakkies)
- Onlangs het Edgars besluit om ‘n diensfooi by hulle rekening te voeg. Ek het bv. op 29 Julie iets vir R400 gekoop en die diensfooi was R3.25 vir die res van maande en R22 vir Augustus. Toe wip ek my en sluit die rekening . Die klerk in die winkel sê daar is baie mense wat hulle rekeninge sluit daaroor. Wat dink jy? Is so diensfooi regverdig of sommer net ‘n geldmaak foefie?
- Smaak verskil, maar ek kan nie verstaan as mense goed koop net om ander mense te beïndruk. Ek sal maklik as ek ‘n ekstra geldjie het ‘n skilderytjie koop omdat dit my aanspreek en nie omdat dit werklik ‘n groot kunswerk is nie. Wat van jou – koop jy dalk kaggelkakkies of kuns? Hoe lyk dit dan?
- Dis darem baie warm vir die einde van Augustus. Ek is maar bekommerd dat daar ‘n lang droë somer voorlê. Miskien moet ons die wintersklere wegpak?
- Dink jy dat vriendskappe/mense regtig (kan) verander?
- Het jy al geglimlag?