Dis so warm dat ek dink ons moet begin om ‘n ark te bou? Vanoggend was daar heelwat wolke waarvan daar natuurlik nou niks te sien is nie. As mens in die straat ry en jy sien hoe daar water gemors word, wonder jy hoekom jy skuldig voel as jy die swaar gieters aandra om op jou flentertjie tuin te gooi.
Die lewe bestaan darem uit ongelykhede. Die een oomblik dink mens die studente het ‘n punt beet en die volgende oomblik ruk hulle die dam onder die eend uit en verniel en verwoes. Ek gesels nou die dag met ‘n student wat ligjare gelede blinkoog voor my gesit het. Hy reken dit sal nogal lekker wees om nie eksamen te skryf nie, maar toe ons nader na die rede kyk, is dit gewoon dat hy dan nie hoef te leer nie. Kom ons wees nou maar eerlik… niks het regtig verander nie. Studente is nie mense nie – ons was ook daar. Ons het het ook klasse gebank en gaan fliek of jol? Ons het ook onverantwoordelike dinge aangevang… selfs goed waarvan sekere mense nooit herstel het en ander nou al hulle agterkleinkinders grootmaak? Nee, ek stem nie saam dat mens goed moet verniel of steel nie, maar terwyl ons op die kantlyn staan en hoogheilig verwyt, kan ons maar bietjie introspeksie ook doen en dink aan die foute wat ons gemaak het en die onverantwoordelike dinge wat ons aangevang het?
Jy hoef nie met my saam te stem nie, maar dis te warm vir ‘n geveg… so kom ons glimlag liewer.





