Ontwikkelaars van aftree-oorde moet beslis spesiale mense wees. Hulle moet ouer mense en hulle behoeftes ken en indien nie, kan hulle gerus bietjie oplees oor belangstellings en veranderinge. Die tye wat mense hulle dae in sitkamers sit en niksdoen, of sit en kerm en kla oor alles wat fout is in die lewe is dalk vir altyd verby. Goed, toegegee daar is wel mense wat heeldag sit en niks doen, maar dan is daar die wat met hulle rekenaars borduurmasjiene en veral bokse en bokse boeke ingetrek het.
Die lekkerte is dat boeke uitgeruil word en jy het elke keer iets nuuts om te lees. Dis nou waar die ontwikkelaars ‘n ernstige toets hier op ons Landgoed gedop het. Die beligting is is met een woord treurig. Hulle het ruim voorsiening gemaak vir kaste in die kamers en die ligte is net voor die kaste en ek wonder of hulle dink ons lees nie In die sitkamer is daar twee klein liggies op plekke waar mens nie regtig sal sit en lees nie. So dwing hulle ons om skemerlampe (wat altyd weerkaats in die TV) of om bykomende ligte te laat aanbring. Vanmiddag het ek juis dit laat doen. Nou sal ek darem saans beter kan sien.
Soms kry ek egter ook skaam dat ek so kla … daar is mense wat nie eers elektrisiteit het nie!
Miskien moet ons maar net op ons tande kners en glimlag?







