Net nadat ek afgetree het, het ek vurig en vol entoesiasme gereeld met my kamera in die kar geklim en die omgewing platgery op fotogeleenthede. Ek het selfs met gemak langs ‘n stil pad stilgehou met die selfoon en vaste lens Nikon en my karsleutels in my sak het ek nooit bang gevoel nie.
Nou het sake egter verander en die fotogeleenthede is baie minder. Behalwe as jy belangstel in die bou van huise in verskillende stadiums, swerms saadeters, blomme in die tuin, sonsondergange, ‘n paar tiptolle en twee geelvinke het die fotogeleenthede opgedroog. Ek is gewoon te stadig om vinnig in my kar te klim en te ry en gaan dus nie meer uit nie. My Landgoed vriende is almal kamera-sku (Ek neem hulle nie kwalik nie, want mense dink ons is maklike gratis promosie materiaal omdat ons so lekker hier woon!)
Die naweek is ons genooi na ‘n baie spesiale vriendin se 80e verjaarsdagviering op ‘n wildsplaas. Ons is heerlik getrakteer en was selfs op ‘n wild-kyk-uitstappie. Ek deel dus graag ‘n paar foto’s.
Baie dankie aan Adri en Rassie Dit was ‘n baie spesiale dag. Dankie ook aan Tannie Polla wat ons lewens verryk!