RSS Feed

Tjommeltjie

Waarskuwing: Hierdie ‘n ‘n persoonlike geselsie en mag on-nagevorsde menings en waarnemings bevat. As jy nie belangstel, sal ek jou nie kwalik neem as jy verby vat nie.

DSCN6419 (2)

Vandat ek op die aftree-landgoed woon, het ‘n hele paar vooropgestelde idees wat ek gehad het verander.

DSCN6426

1. Eensaamheid is ‘n keuse. Vanoggend stap ek na my kar toe en ‘n oom kom aangery met die woorde: ‘Dankie tog darem mense om ‘n paar woorde mee te praat.’  Vandat ek hier woon was daar nog nooit ‘n oomblik wat ek voel ek is eensaam of selfs alleen nie. Niemand steur jou as jou gordyne toegetrek is en jou deur gesluit is, tog voel ek nooit alleen nie. Ek dink ek verstaan dan nie eensaamheid nie, ek het altyd iets om te doen en soms moet ek my dwing om te gaan eet. Dink ander mense dus anders oor eensaamheid?  Daar is mense wat verveeld is en dit dan dalk as eensaam beleef?

DSCN6185

2. So op ‘n bou-perseel leer mens baie van bouwerk.  Mens raak ook hiper-krities, jy kyk met ‘n ander oog na geute, teëls en pleisterwerk.  Die bouers is effe agter en jy kan nie dink hoe hulle soos miere wikkel nie. Of alles nou so deeglik gedoen word sou ek nie kan sê nie.  Die nuwe woonstelle het ‘n garage by maar is heelwat duurder as ons woonstelle.  Ek wonder of ek dalk moet ruil maar dan gaan ek my bure mis en wat dan van die woonstel waarin ek nou woon?  Dis interessant want daar is selfs vroulike bouers wat heel knap aan die bou is. Tog is dit darem harde werk wat ‘n mens se rug kan laat afbreek.

DSCN6202

3.  As die tyd aanbreek dat jy in die sorgsentrum moet gaan woon moet jy die kans aangryp. Sommige mens skop vier voet vas, maar is dan baie bly as hulle daar land. Ek sien nou hoe rustig en versorg en selfs geliefd die mense voel. Oom G het nou al 100X sy kamer vir Tannie L gaan wys en elke keer is sy gepas verras. Nou die middag het sy met hom aan die hand haar woonstel gaan wys en hy was hoog in sy noppies. Mens kry sommer groot deernis vir vir mense wat tuis gekom het.  Oom V het aan sy tande laat werk maar dra nou sy plaatjie in hy hempsak ete toe.  Nou die middag het W en Oom A ‘n kombersie op die stoep gedeel … nie een praat eintlik nie maar sy sit en rook en hulle sit in ‘n gemaklike stilte saam op die stoepie in die sonnetjie.

DSCN6413 (2)

4.  Die Chinese is darem lekker slim. Ek het my tweede tuinslang gekoop – die ding sit mos uit as die water inloop – my blonde koppie het gedink ek sal dit kan knak soos ‘n gewone tuinslang maar het my fout agter gekom – sop-water-nat gespuit . Nou sit ek sak oor die kop maar dit werk nog nie heeltemal nie … dis darem maar ‘n straf as die tegniese gene dun gesaai is hier by my.

DSCN6415 (2)

Intussen is ek nog baie bly ek het na die Landgoed getrek het … die snoere val op lieflike plekke.

48 responses

  1. Hopelijk kan ik voor mezelf blijven zorgen want ik heb mijn moeder 7 jaar lang alle dagen gaan eten geven in zo’n instelling en zal het nooit kunnen vergeten. Vastgeriemd in bed omdat je er zou kunnen uitvallen.Ik heb toen gezegd dat ze haar moesten losmaken op mijn verantwoordelijkheid.Je mooie bloemenfoto’s maken mijn dag goed.

  2. Dit klink asof jy op ‘n fantastiese landgoed woon.

    Nou die dag toe lees ek ‘n artikel van ‘n ouer dame wie lelik deur een van die personeel lede mishandel was in ‘n baie “gewilde” aftree oord op PE. (daar was beelmateriaal ook by gewees) Dit maak mens nogals baie bekommer oor mens se oudag.

    Talie, ons moet maar vir jou ‘n stortkeppie kry vir daardie tuin namaak slag!😉 .

    • hehehehe… ek het ‘n gawe plan uitgedink. Ek sit die sproeier in ‘n sak en as die tuinslang uitsit skuif ek dit waar ek dit wil hê en dan trek ek dit uit die sak.

      Ek moet die sê die mishandeling is ooral moontlik. Gelukkig is hier redelik toesig. Ek sien wel dat die personeel die vrolike gawe mense eerste na hulle kamers toe neem en held voor hulle die nukkebolle doen. Dis tog maar seker hoe die lewe werk?

  3. Ek het jou persoonlike gedagtes nou baie geniet.
    Vir my is dit maklik om te praat, ek is mos nog nie daar waar ek moet trek na ‘n aftree- of versorgingsoord nie. Ek sien dit telkens dat die mense vasskop, en as hulle eers daar is, is hulle gelukkig. Net my eie tante… ja… ek stem eintlik met haar saam…

  4. ja Tina
    ik kijk de tour
    gaf hier al 2 reacties en nu deze , worden niet gepubliceerd

  5. Daar is ‘n vrou by Koraal wat baie eensaam is. Sy het ons omtrent gesmeek om in te kom en by haar tee te kom drink…. uitgehonger vir geselskap. Sy is fluks, haar huis blink van bo tot onder, haar tuin is iets om te aanskou…. maar sy is eensaam. Ek het al baie oor haar gewonder, want ek weet toe my sus hulle daar gebly het, het mense oor en weer gekuier.
    Lekker gelees…. en fotos gekyk.

  6. hé mijn reactie is er niet
    ik begreep niet alles , alleen dat over eenzaam zijn , ja dat kan een keuze zijn maar ook niet altijd
    dank voor het mooi vinden van de foto , zit een heel album onder
    fijne avond

  7. Lekker tjommeltjie, ten spyte van die SNLV waarskuwing! Klink of jy lekker bly daar. Dit het baie met ‘n positiewe ingesteldheid te make.

    • Ja ek glo so… daar is mense wat in die begin baie huil maar as hulle aangepas kom geniet hulle die rustigheid en die feit dat daar iemand is wat na jou omsien.

      Ek sou dit haat om mense met my persoonlike getjorrel mense te verveel… een van my grootste vrese en daarom hou ek my maar eenkant

  8. Ek hou van jou tjommeltjies, dis vir my soos ‘n kuiertjie!

    • Een van die dinge wat my angstig maak, is om mense te verveel. Om dieselfde rede is ek nie baie sosiaal nie. Ek kan nie ure met mense praat en dan voel hulle stel nie regtig belang nie.

  9. Pragtige foto’s Tina! Ek is mal oor die blomme. Hulle lyk net so gelukkig soos jy.😀

    Punt no 1: Ek stem 100% met jou saam. Dit is ‘n keuse en ek sal dit nie eensaamheid noem nie. Ek geniet my eie geselskap baie meer as om by mense te sit en gesels en hou daarvan om alleen te wees. My buurvrou langsaan het ook gedink sy het nou iemand om mee te gesels – tot haar bittere spyt – want ek kan nie so vir ure sit en klets nie. Ek het hopeloos te veel om te doen en doen my eie huiswerk. So ja, ek dink dit is meer verveeld as mense hulself as eensaam sien. Ek dink hulle moet stokperdjies kry.😀

    Punt no. 2: Dis interessant om hulle so te sien bou en ja, hier by ons is ook heelwat vroulike bouers. Dis harde werk verseker en ja, van die kwaliteit sal ons nie praat nie. Party ken hul werk en ander neem short-cuts.😀

    Punt no. 3: Ek dink as mens by ‘n goeie sorgsentrum kan inkom, is dit ‘n goeie ding. Hoekom alleen in ‘n kasarm of huis bly waar jy in gevaar kan wees?

    Punt no. 4: hahahahah! Ja, hulle weet goed hoe om geld te maak. Ek raak al naar as ek sien ‘made in China’.😆

  10. Jou foto’s is pragtig! Hulle se mos : you heart is where your home is!

  11. Ek dink goeie bure is baie belangrik.
    Pragtige fotos, veral van die blomme.
    Die bouers fotos is ook interesant, want hier is mos nie baksteen huise nie🙂

  12. scrapydo2.wordpress.com

    Het ook maar aanmoediging gevat om uiteindelik te skuif nê! Ek is bly jy geniet dit daar. Dit was ook met Mamma so- sy het die stukkie versorgingsoord baie geniet omdat almal van mekaar gehou het en saam gedeel het in al die plesiertjies.

  13. O voor ek vergeet..jou foto’s is pragtig!Ek hou veral van die raampies.

  14. Baie interessante tjommeltjie!

  15. hé reactie is er niet ??

  16. nou ik ben het eens dat eenzaamheid een keuze is of in ieder geval zo kan zijn
    dat je op een bouwplaats wat kan leren ook en kijk dan is gelijk de eenzaamheid weg
    wens ook jou een fijne avond

  17. Vandag was my vierde dag hier by ons en het ek al n paar keer lekker gelag, vir myself en ander. My huisgenote bestaan uit n Portugeuse paartjie, siestog die vrou kan glad nie Afrikaans of Engels praat of verstaan nie. Die man praat n skaflike verstaanbare Engels en tolk voortdurend vir sy vrou wat hom so mooi versorg. Hulle het hulle eie en suite badkamer en is slegs onder een dak, verder op hulle eie. Hulle is vlak in die 80 jr. Dan is daar my buurvrou in nr 5 wat my onder haar vlerk geneem het en oral rondneem waar ek moet wees en aan almal voorstel. Ek is in nr 4. Ons twee deel n stort en toilet. Ek is 70 en sy het pas 69 geword. In nr 3 is n dierbare tannie van 82 en langs haar in nr 2 is nog een van 87. Hulle twee deel n bad en toilet. In nr 1 woon n paartjie van 92 en 91 wat op die oomblik bietjie by die Vaalrivier vakansie hou! Ek het hulle nog nie ontmoet nie. Ons vier enkel dames het elkeen n eenman(vrou) eenheid met n sit/eet gedeelte en klein kombuisie en gerieflike slaapgedeelte. In die kombuisie is n enkel wasbak en tweeplaatstofie met plek vir n mikrogolfoond en yskas. Genoeg kaste en pakplek vir wat ek nodig het. In die winter kry ons kamers heeldag son. Ons maak ons eie ontbyt en aandete. Middagrtes word in die eetsaal bedien (hotelstyl) met n driegang maaltyd elke dag. Ek sit aan tafel nr 21 saam met 3 ander dames waarvan een my elke dag welkom heet omdat die ander een my elke dag aan haar voorstel as “a new lady, Annetjie”. Ek groet maar ewe vriendelik en sê dankie vir die verwelkoming. Soos jy tereg sê as jy eensaam is is dit jou keuse. Ek is verantwoordelik vir my eie stukkie tuin, as ek wil. Iets waaroor ek baie bly is, ek is en was nog altyd mal oor tuinmaak en gaan deelneem aan die tuinkompetisie, nie om dit te wen nie, sommer net. Hier is ook fiksheidklasse en gedurende somer water aerobiese klasse sowel as senior olimpiade, vir die wat kwalifiseer. Ek gaan maar eers net stap, tot by die hek en terug, saam met my buurvrou. Die middagetes is die rede vir die besluit!. Ek is so bly jy het vir my geskryf! Ek dink om een of ander rede voortdurend aan jou en wonder hoe is dinge daar by jou. Ek gaan op n ander geleentheid vir jou foto’s stuur. Geniet n wonderlike naweek.

    • Dit klink baie lekker. Ons is mos ‘n nuwe oord so baie dinge is nog nie in plek nie. Ek is nie eintlik ‘n groep mens nie en sal nie al die aktiwiteite bybring nie. Ons het elke tweede Woensdag kerk wat vir my baie beteken en ons stap ook elke middag. In die Somer het ek ook soggens gestap maar dit breek ‘n mens se dag so op. Jy moet jou tuintjie wys ek is nuuskierig

  18. Baie gaaf dat jy tevrede is oor die skuif.

%d bloggers like this: