RSS Feed

Klein Jakkalsies

Nuwe goetjertjie interesseer my geweldig, want ek is grensloos nuuskierig, maar ek kom gereeld my moses tee.

So rukkie gelede het ek vertel van die cool-kussing wat help met die gloede en ek het die naweek die kussing voorberei … wel dis ‘n hele gedoente want jy vul dit met warm water en los dit 4 ure om af te koel. Daarna rol jy dit op om die lug te verwyder. Daar begin die eerste moeilikheid want die ding is is plat en saam met die lug loop daar ook water uit.  Die ding is ook swaar en jy sukkel om dit plat in die kussingsloop te kry.

DSCN5015 (2)

Die begin van die aan was regtig lekker – heerlik koel, maar hoe later hoe kwater. Die dekselse ding vorm voue en dis hard en beslis nie aangenaam nie… so teen 3 uur het ek dit uit die bed gegooi – hulle reken mens moet as dit gebeur weer die water uitgooi en die hele proses herhaal – sug – ek sal maar sien of ek lus het.

******

Die ander klein jakkalsie – ek het vertel van die voëltjies op my internet toring gesit het en en op my stoep gepoef het. Die verskaffer het sonder enige koste die toring geskuif en die voëltjies kon nou in die blommetjies poef!  Dit het alles goed gegaan tot hierdie naweek. Die slim voëltjie het nou ‘n skuilplek op die klein stukkie balk gevind en skyt sowaar weer op die stoep. Elias het darem nou opgeklim en plastieksakke tussen die balke  ingedruk  – nou kan ons maar net hoop van die beste…

DSCN4797

Het jy ook sulke klein nietige goedjies wat jou lewe versondig?

 

34 responses

  1. Ons het n probleem met duiwe wat broei op n geut bo ons wasgoedlyn. Voor ons weg is met vakansie, het ek daagliks n einde aan hul nesbou-planne probeer maak en gehoop as ek elke dag die paar stokkies afkrap kry hulle die boodskap. Maar, slim vang sy baas en na ons 3 weke in die bos het ons huis toe gekom en gevind dat die duiwe hulself heel ingeburger het en nou n jong gesinnetjie is. Ek sal nie so harteloos wees om hul nou iets aan te doen nie, maar elke keer as ek by die wasgoedlyn en geut verbyloop los ek n paar knope…

  2. Hie-hie! Ons voer ook voëltjies, toe trek ‘n familie op ons “deck” in en dit is mis op alles, die BBQ, tafel, stoele, vloer, ens. Ons probeer toe plastiese slange, ‘n groot plastiese uil, maar niks werk nie, hulle het selfs op die uil gaan sit.

  3. Spokie sny spoor

    HieHieHie, nou het jy my lekker laat kraai. Sien al hoe jy die kussing uit die bed smyt.

  4. Groot swart harige spinnekoppe met lang bene!😦😦😦

    • Spokie sny spoor

      Ek like ook nie daai ‘deng’ nie. hier in my cabin in die berg voer ek en hulle oorlog. Ek nooi hulle gereeld om uit te gaan in die heerlike sonskyn buite. Maar hul dink my houthuisie is beter. Dan gaan haal ek maar my geweer … (Doom)

      • Sug … eintlik woon jy by hulle?

        • Spokie sny spoor

          Sug … eintlik is jy reg. My vriendin van Trichardsdal het my geleer om te ‘heers’ oor die spinnekoppe, sy haat Doom. Sy is erg gelowig. Ek het van hulle al beveel om te trek, en een dag kans gegee … en moet nou nie lag nie … een groot botterspinnekop wat op my wasgoedlyn gespin het, was rerig die volgende dag weg. Nou weet ek nie of mens dit ‘geluk’ noem of ‘geloof’ of ‘heers’ oor die diere van die veld, nie.

    • hehehehe… my buurvrou roer selfs vir die kleinste spinnekoppie

  5. Lekker glimlag ek nou! Sien hele petalje voor my. Voeltjies moet maar net verwilder word! Hul soek nesmaakplek. Ek is gedurig op jag! Hul begin van ver af al gesels om my hangmandjies se nesmaakgoed uit te trek!

  6. Ha ha ha ha!!! Hoe lekker lag ek nou!😀

  7. Ek kan vreeslik op my eie senuwees werk. Ek vergeet gedurig waar het ek my bril neergesit, Ek kan nie my bril sonder my bril sien nie. Dan moet almal in die huis help om te soek. Ek dink hulle is al skoon moeg vir my !

%d bloggers like this: