RSS Feed

Aftree-oord – sorgsentrum – Leefstyl Landgoed

Mense het ‘n vreemde persepsie van ‘n plek waar ouer mense gaan woon om verskeie redes. Mense dink en neem baie keer aan dat die mense met gevoude hande op die stoep of sitkamer sit en wag om dood te gaan.  As hulle die woord sorgsentrum hoor dink hulle aan die hierdie hospitaal gange waar die doodsroggelings opklink en nursies flink en vlugtig rondtrippel met opgooisel en bedpanne.  Ag nee wat jy maak ‘n vet fout.  Ja doodgaan is nie maklik nie, maar wil jy nie die heel beste uit die lewe haal tot die einde nie?

Een van die huise op die aftree-oord. Jy is geregtig op 'n plek in die sorg sentrum as jy hier bly.

Een van die huise op die aftree-oord. Jy is geregtig op ‘n plek in die sorg sentrum as jy hier bly.

Ja, die meeste mense is oud, maar voorwaar hier by ons sit hulle nie en wag om dood te gaan nie. Op die oomblik het ons 13 inwoners waarvan niemand siek is.  Daar is net een inwoner wat nog sê sy wens sy kan terug gaan. Ons het nounet aan tafel so gelag dat mens trane moes afvee. Ons praat oor die verwarmers wat ons in die badkamers laat insit het en die geisers wat vreeslik hoog gestel is – dis kokend warm.  Tannie H vertel met groot gebare sy het ‘n stoel in haar stort … sy draai die stortkraan vol oop en maak met die warm water die stoel lekker warm. Daarna haal sy die stoel uit en sit op die warm stoel tot die verwarmer die badkamer warm maak.  Ons het so hard gelag dat die ander inwoners skeef opgekyk het.

Vroegoggend uitsig

Vroegoggend uitsig

Die oudste inwoner is 92 en die jongste een Oom se gestremde seun van 55.  Mens hoef nie siek te wees om hier te woon nie. Mens moet net ouer as 45 wees. Jy kan op vlak 0 woon, maar dan maak jy jou eie kos. Ek het dit eers oorweeg maar is nie ‘n oomblik spyt dat ek die vlak 1 opsie met middagete gekies het nie.

Die sorgsentrum het Aluminium vir dak balke. Dit is veiliger vir 'n brand want dis moeilik om bedlênde mense vinnig te ontruim.

Die sorgsentrum het Aluminium vir dak balke. Dit is veiliger vir ‘n brand want dis moeilik om bedlêende mense vinnig te ontruim.

Die sorgsentrum wat hulle tans bou bestaan uit kamers ‘n badkamer en ‘n lekker sonstoepie. Ek weet niemand wil regtig daar wees nie maar as jy regtig sorg nodig het, is dit die enigste uitweg as jy nie die las op jou geliefdes wil plaas nie.   Ja, ja ek weet jy is nog jonk, maar ek wil net sê ouderdom is dalk nie so skrikwekkend soos jy dink nie. Jy kan wonderlike vriende ontdek en soveel pret hê – dit hang net van jou af.  En (skuus Lou) die heel beste is dat jy nog vir iemand anders iets kan beteken.

Kry vir jou 'n stokperdjie wat jy kan doen as jy oud is, dan hoef jy nooit bang te wees dat jy jou gaan verveel nie

Kry vir jou ‘n stokperdjie wat jy kan doen as jy oud is, dan hoef jy nooit bang te wees dat jy jou gaan verveel nie

 

26 responses

  1. Dit is so verfrissend om ‘n afgetrede persoon so positief te hoor praat van ‘n aftree-oord. My ondervinding van Ouma’s en vriendinne se ma’s is dat hulle hulle hakke styf in die grond indruk as iemand net praat van ‘n aftree-oord. Hulle weier om hulle groot huise te verlaat en die vooruitsig van ontslae raak van bal en klou meubels wat net te groot sal wees vir die kleiner vertrekkies is ‘n “non-negotiable”vir hulle. Dit klink werklik of jy gelukkig is daar en dit lyk boonop vreeslik mooi. En om net te gaan aansit vir ete en poeding ook is mos glad nie te versmaai nie! xxx

    • Ek glo ‘n mens moet liewer gouer as later die besluit neem. Ek het ook van ‘n 3slaapkamer na ‘n 2slaapkamer verskuif en baie goed uitgegooi. Ek is nou ses maande hier ek koop maar weer goed wat ek nie regtig nodig het nie. Dis egter 100X minder werk. 2x maal per week word skoongemaak en wasgoed gewas. Jy koop nooit weer skoonmaakmiddels behalwe skottelgoed seep

  2. Ek dink dis goed dat mens die soort voorsorg vir die oudag tref terwyl jy nog kan en nie inderhaas ‘n plek in ‘n sorgoord moet soek as die gesondheid nie meer van die beste is nie.

    • Mens moet net nie te lank wag dat jy nie die samesyn kan geniet nie. Ek dink dis anders vir mense met families, maar ek sien somme plekke is besonder gewilde kuierplekke Kinders is meer gerus as oupa of ouma versorg is

  3. Ek kom nogal agter dat jy voorheen ook maar gedink het dis hoe die mense daar lewe. Noudat jy daar is kom jy agter dis heeltemaal n ander storie. Dis hoekom ek bv daarvoor is om na n aftree-oord te gaan voordat jy net kan sit en doodgaan. Daar is so baie wat die lewe aangenaam maak mens kan dit net nie mis nie. As ek die kans kry ruil ek sommer nou my blyplek vir n plek in so n oord

  4. Ek dink dis soos enigiets in die lewe – ‘n mens het die keuse van HOE jy reageer op dinge wat op jou pad kom. Ongelukkig werk dit nie noodwendig altyd uit soos wat jy kies nie, maar gesindheid speel sekerlik die grootste rol.

    • Ja dis waar. Die tannie wat nie hier wil wees het te laat gekom. Sy is baie vergeetagtig en daarom verlang sy na die bekende.

      Ek glo ook vas dat ek spesiaal op die pad geplaas is – ek het hier wonderlike vriendinne gemaak. Ons trap nie mekaar se drumpel plat nie, maar mens voel geliefd en dis ‘n groot voorreg

  5. Dit lyk baie lekker en jy het definitief die regte positiewe gesindheid.Om te dink jy hoef nooit weer te trek nie!My hare rys as ek dink aan die omwenteling wat mens moet deurgaan om so ‘n skuif te maak.

  6. Word jy betaal vir die bemarking? Hehe. Die uitsig is hemels…

  7. monicahaddad01

    Dit lyk na ‘n baie lekker plek. Mense om jou wat op dieselfde golflente is, dit werk vir my🙂

  8. Tina, my kop is reg vir so skuif maar nie annerhelfte nie! (en hy’s die kranklike)

  9. Ek sal daarvan hou.. iemand anders nog nie, maar definitief klink dit vir my lekker.

    • Ek sou ook dalk 2X dink as ek nie alleen was nie, maar dit pas my soos ‘n handskoen. Ek het elke dag ‘n tafel om by te eet Elke dag poeding en geen skottelgoed en nog stapmaats ook

  10. Weg van die dorpsgewoel. Ja , ingesteldheid is alles.

%d bloggers like this: