Terwyl ‘n mens skoolhou is daar baie dinge waaroor mens kerm en kla soos nasienwerk, administrasie ongeskikte kinders, sportafrigting op warm middae en nog baie meer (Eish – speelgronddiens en eksamentoesig is seker die heel slegste). Daar is egter baie dinge wat die onderwys die moeite werd maak. Die oomblik wanneer ‘n kind wat ‘n aha-oomblik het, is wonderlik, die feit dat jy weet dat jy vir sommige kinders ‘n liefde vir jou vak laat ontwikkel, is seker dit wat elke dag se swoeg die moeite werd maak.
Daar is ook die kinders wat mens baie trots maak. Op ‘n stadium het ek Kuns en Kultuur begin aanbied. Ek het glad nie opleiding daarin nie en behalwe dat ek darem so twee note na mekaar kan sing, weet ek baie min van musiek af. Ek het altyd vir die kinders gesê dat almal een of ander tyd in hulle lewens voor ander mense sal moet optree en dat hulle soveel moontlik moet oefen aan hierdie vaardigheid. Ons het daarom begin met ons eie Idols (Genoem Klanke-Kalante) Ons het oudisies gedoen (almal moes deelneem maar hulle koen kies of hulle net vir punte of vir die kompetisie wil deelneem) Dan het ons so 25 goeies uitgekies wat voor die hele skool gesing het, die kinders het dan gestem en die top 10 het dan vir die ouers gesing. Dit was altyd baie lekker en die kinders het dit geweldig geniet.
‘n Hele paar van hierdie kinders het voortgegaan met hulle sang/musiek en nou die dag luister ek na ‘n dogter se opname op FB. Dit was so so mooi dat ek ‘n knop in die keel gekry het. Kinders maak ‘n mens oneindig trots as hulle ‘n sukses van hulle lewens maak. Ek is so oneindig bly as hulle vertel hoe hulle, hul studies geniet en goed presteer, maar ook wanneer mens besef hoe hulle gelukkig is. Kinders het op ‘n heel besondere wyse mens se lewe aangeraak. Dit so lekker om te sien hoe hulle hul plek vol staan in die lewe. Al hierdie goed laat die stres en minder lekker goed van die onderwys verdwyn.
Die kinders wat onderwysers word het in die laaste tyd baie vermeerder… dis sekerlik nie ek wat hulle geïnspireer het nie, maar ook dit laat my hart warm voel.