Net Ek gesels vanoggend oor Afrikaans en Engels en dit wat mens lees. ‘n Mens se smaak en gewoontes verander mos maar so met die tyd wat verby gaan. Ek het laat in my tiener jare eers die genot van lees ontdek. Miskien omdat ek nie ‘n goeie leser is nie. My aandag dwaal en ek lees selektief net om die storie te kry. Dit het my al diep in die moeilikheid gebring – veral op die blogs waar mens nie sommer kommentaar kan lewer sonder dat jy deeglik gelees het nie… ek onthou een keer toe iemand ‘n vreeslike aandoenlike blog geskryf het oor iemand wat oorlede is en ek plegtig erken het ek hou daarvan. Ek het so van die persoon se skryfstyl gehou en die storie het my so aangegryp dat die kommentaar my diep in die moeilikheid gebring het.
Ek lees graag:
1. Almal wat ek volg se blogs en die kommentare
2. Tyskrifte hehehehe Huisgenoot VroueKeur – Afrikaans dus. (so stenig my!) Lees darem ook Readers Digest.
3. Engelse fiksie – Nee geen literatuur nie … ek hou van aksie en darem bietjie seks om dit op te kikker.
4. Kort koerantberigte in Afrikaans – as ek een koop lees ek altyd die lesers se briewe.
5. Ek kyk hoofsaaklik prentjies/foto’s op die internet, maar sal soms die byskrifte lees.
6. Ek blaai deur ons plaaslike koerante en kyk of my skool darem soms die koerant haal.
7. Ek lees soms die kleinskrif op medisynebottels en soms advertensies.
8. Ek lees glad nie instruksies nie.
9. Ek lees glad nie die inhoud van blikkies of verpakte kosse nie.
10 Ek lees swaar aan amptelike briewe.
Kom vertel ons bietjie wat lees jy graag en in watter taal.
