Ek deel graag die kommentaar van my Fotografie opdrag. Ek het weer met die kursus begin omdat ek ‘n nuwe kamera aangeskaf het. Die het egter in die slag gebly toe ek ten aanskoue van baie mense in die Mall neergeslaan het.
Fotografie Opdrag 2 Beweging
TERUGVOERING : WERKOPDRAG 02
Minke in Aksie – Die algehele aksie met die water wat lekker hoog spat is skerp vasgvang. Die beligting ook net reg wat maak dat al die kleure helder weergee word. `n Foto wat baie duidelik alles sê van die genieting van die oomblik.
Konsert by Alma Skool vir Gestremdes – Die gesig van die seun maak `n sterk fokuspunt uit. Die groot oë is helder, die ernstige konsentrasie op die gesig is leesbaar en mens kan duidelik aflei dat wat hy hier mee besig is vir hom `n saak van erns is. Die gesig word sterk omraam deur die kleurvolle vlae en die bewegende hand is bydraend tot die dinamika van die oomblik. Netjies vasgevang.
*fluister* dis eintlik ‘n dogter
Kunsmatige Waterval – Die kamera se sluiterspoed van 1/100ste sekonde was nie genoeg om die vallende water se beweging heeltemaal te vries nie. Gevolglik kry jy daardie streperigheid, so `n suggestie van beweging, `n tegniek wat deur baie fotograwe gebruik word, veral by watervalle of branders by die see. Die reënboog is `n bonus. `n Sinvolle komposisie met die donker agtergrond en die takkies aan die kant.
Na `n Lekker Reënbui – Goue waters. Pragtige kleur en besonderlike oppervlak nuanses. Goed raakgesien en kunstig vasgevang.