Eish, het ek nie gesukkel nie. Ek moet darem ook sê die keer is my foto’s nie tussen die mooistes nie. Met troeteldier is dit vir my soos voëls – ek is net gewoon te stadig en hulle is voor ek die knoppie kan druk reeds in die volgende raampie.
Wat die fotograaf hier reg gedoen het was om nader aan die hond te beweeg ten einde die hond se gesig die kern van die foto te maak. Ongelukkig was die fokus nie skerp nie, veral op die oog van die hond. Fokus is krities tot die sukses van enige foto en in hierdie geval is dit die rede waarom die foto nie werk nie. In ‘n latere les gaan ons meer gesels oor die fokuspunte op jou kamera en hoe om hulle beter te benut. O ja, iets anders wat werk is die goeie oogkontak met die “model.”
Die dilemma met hierdie foto is dat daar te min hond en te veel agtergrond is. Die fotograaf kon heelwat nader aan die hond gekom het. Onthou ook dat ons oog altyd na die helderste dee van ‘n foto getrek word. In hierdie geval is daar baie helder lig agter wat die aandag steel sowel as ‘n sonkolletjie regs onder. Omdat die hondjie van agter verlig word is dit nodig om ook van voor af deur middel van ‘n flash meer lig op Brakkie te bring. Die gesiggie is ook reg in die middel van die foto met te veel nuttelose spasie aan weerskante.